|

DIE BEHOEFTE AAN ’N ONAFHANKLIKE SPORTBEWEGING

Deur Ronald Peters

Suid-Afrika is sonder twyfel een van die mees tradisieryke sportlande ter wêreld. Met ’n geskiedenis van prestasie op die hoogste vlakke en talle hartroerende verhale van individue wat vanuit die ongunstigste omstandighede ons land in sy nasionale sportspanne verteenwoordig het, is dit skaars nodig om kinders vanaf ’n baie jong ouderdom te probeer motiveer om ’n passie vir sport te ontwikkel.

Die uitdaging lê egter in die proses om hierdie jong individue wat ’n passie vir sport het, bloot te stel aan geleenthede waar hulle hierdie passie kan uitleef, van daardie geleenthede gebruik te maak om jong talent te identifiseer, en dan daardie jong talent tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Alhoewel dit ’n groot uitdaging is, speel hierdie proses ’n integrale rol in ons potensiaal om as land in die toekoms op die hoogste vlakke te kan kompeteer. Wat hierdie proses nog meer uitdagend maak, is dat politici nou meer as ooit tevore hul diskriminerende beleide afdwing op sportfederasies en ander liggame wat veronderstel is om sport in ons land te bevorder.

’n Mens hoef nie ’n sportkenner te wees om raak te sien dat die algehele standaard van sport op die vlakke waar politici reeds hul vingers kon inkry, drasties afgeneem het nie. Dit is ook nie moeilik om uit te wys dat top-presterende spelers nie noodwendig die spelers is wat op provinsiale en nasionale vlak gekies word nie. In my kapasiteit as bestuurder van AfriForum Sport tree ek gereeld in gesprek met huidige en voormalige verteenwoordigers by ons verskeie sportfederasies, en die realiteit wat my ná meeste gesprekke in die gesig staar, is dat dit eers baie slegter sal moet gaan voordat hierdie toksiese stelsel hersien sal word. Dit is egter slegs waar indien ons afhanklikheid rakende sporthulpbronne en -geleenthede gesentreer bly by die federasies, wat deur politiek beheer word.

Die toedrag van weerstandlose agteruitgang kom al ’n ver pad, maar het nou sy vervaldatum bereik. Dit is tyd dat ons eienaarskap neem van die toekoms van sport in ons land. Dit is tyd dat ons self geleenthede skep waar jong talent geïdentifiseer en tot volle potensiaal ontwikkel kan word. Dit is tyd dat ons platforms ontwikkel wat toegang tot sporthulpbronne vergemaklik. Dit is tyd dat erkenning van prestasie weer op meriete gedoen word en nie op ander diskriminerende gronde nie. Dit is tyd dat ons die vermoë wat sport het om gemeenskappe saam te bind en te bemagtig, weer tot volle potensiaal ontgin.

Die tyd is nou.

Jy word hiermee uitgedaag. As jy een van die duisende is wat moeg gekla is oor die onregverdighede van die stelsels in ons land en saam wil bou aan ’n toekoms vir my en jou kinders, word dan deel van die AfriForum Sport-gemeenskap. Die verantwoordelikheid is groot, maar ons sal nie toelaat dat politici hierdie fundamentele liggaam wat vir soveel mense hoop en ’n heenkome gee, in die grond indryf nie. Hier is ’n geleentheid om mense hoop te gee en te bemagtig, en om deel te word van ’n gemeenskapsgevoel. Moet dit nie misloop nie.

Similar Posts